Google bring die boek terug
2009-09-17 15:33
Kalifornië- Google Inc. sal sowat 2 miljoen van sy digitale boeke kans gee om gereïnkarneer te word as sagtebandboeke.
Dít kom nadat dié internet-reus ‘n ooreenkoms met ‘n hoëspoed drukkery aangegaan het wat ‘n sagtebandboek, van sowat 300 bladsye, binne vyf minute kan uitspoeg.
Hiermee gee Google erkenning dat nie almal hulle boeke in digitale-formaat wil lees nie. Die “Espresso Book Machine” is reeds ‘n paar jaar gelede vervaardig maar hoop om binnekort meer gewild te wees danksy Google se bydra.
Dié boekmasjien kan dalk nog meer boeke aanmekaar slaan as Google ‘n hofsaak wen waarin hulle toestemming vra om boeke te herdruk wat reeds jare lank nie meer uitgegee word nie.
“Die kringloop word nou voltooi,” het Jennie Johnson, woordvoerder vir Google, gesê. “Nou gaan mense die fisiese kopie van ‘n boek kan kry wat dalk net in ‘n biblioteek beskikbaar is of dalk glad nie beskikbaar is nie.”
So ‘n kits-boek sal die gebruiker ongeveer $8 (R64) uit die sak jaag.
–Sapa, AP