Goeie nuus oor vigs in Afrika
2011-07-21 08:41
Kaapstad - Die lewensduur van MIV-positiewe mense wat in Afrika met vigsmiddels behandel word, is nou “byna gelyk aan normaal”.
Prof. Jean Nachega, direkteur van die Sentrum vir Aansteeklike Siektes aan die Universiteit van Stellenbosch, was ’n mede-navorser in ’n studie wat dié bevinding gemaak het.
Die navorsing is gepubliseer in die Annals of Internal Medicine saam met 2011 se Internasionale Vigs-konferensie wat vandeesweek in Rome gehou word.
Vroue met die siekte het ’n effe hoër lewensverwagting as mans omdat hulle vroeër hulp soek. Maar almal wat gou met antiretrovirale middels behandel word, kan ’n “byna normale lewensverwagting” hê.
Luidens die navorsingstuk stuur dit ’n duidelike boodskap uit dat die siekte nie meer as ’n doodsvonnis beskou moet word nie. “MIV-positiewe mense moet vir die toekoms beplan en hulle op ’n lang en betekenisvolle lewe voorberei.”
Dit toon ook dat die wêreldwye belegging in MIV-programme vrugte afwerp, maar hoe vroeër met die behandeling begin word, hoe beter.
Die voordele sal net aanhou indien die internasionale gemeenskap en regerings voortgaan om mense op lang termyn te behandel, het Nachega gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad