Gmail gekraak, China sê beskuldiging “onaanvaarbaar”
2011-06-02 14:30
Beijing - Chinese kuberkrakers het honderde gebruikers se Gmail-rekeninge gekraak, insluitend die van senior Amerikaanse regeringsamptenare, weermagpersoneel en politieke aktiviste, het Google gesê.
Die krakers het ‘n phishing-slenter gebruik om die slagoffers se wagwoorde te verkry.
Die internetreus Google het gesê sy eie sekerheidsmeganismes het die slenter flink uitgesnuffel. Die slagoffers is in kennis gestel en hul Gmail-rekeninge is herstel, het die maatskappy gesê.
Google het egter nie gesê watter Amerikaanse regeringsafdelings geteiken is en of enige sensitiewe dokumente tydens die kraking uitgelek is nie.
Verskeie Chinese aktiviste, militêre personeel, joernaliste en amptenare in Suid-Korea se Gmail-rekeninge is ook gekraak.
Google het die kraak se spoor na Jinan, China gevolg.
China het egter gesê dit is “onaanvaarbaar” vir Google om hulle te beskuldig en met die kuberaanval te verbind.
Dié stad is ook die tuiste van rekenaars in ‘n vakskool beskuldig van ‘n kuberaanval op Google se sisteem sowat ‘n jaar gelede.
Die minder streng Hong Kong is nou die tuiste van Google China na die aanval. China se streng sensuurwette op die vasteland het Google aangehits het om die skuif te maak.
Voor die skuif, het bloed begin kook weens berigte dat die Chinese regering verantwoordelik vir die 2009 en 2010 kuberaanvalle is, ‘n moontlikheid wat Google nie ontken het nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA