Gloeiende hond kan help met mense se siektes
2011-07-29 09:07
Seoel – Suid-Koreaanse wetenskaplikes het Woensdag bekend gemaak dat hulle ’n gloeiende hond geskep het.
Hulle het dit gedoen met ’n kloningstegniek wat kan help om siektes soos alzheimer- en parkinsonsiekte te genees, het die nuusagentskap Yonhap berig.
’n Navorsingspan van die Nasionale Universiteit van Seoel (SNU) het gesê daar is ontdek die geneties gemodifiseerde beagle-wyfie, Tegon, gee ’n groen fluoresserende lig onder ultravioletlig af as sy doksisiklien-antibiotika ontvang.
Die navorsers, wie se werk oor twee jaar gestrek het, het gesê die dier se vermoë om te gloei kan aan- of afgeskakel word deur ’n middel by haar kos te voeg.
“Die skepping van Tegon bied nuwe moontlikhede, aangesien die geen wat die hond laat gloei vervang kan word met gene wat noodlottige siektes by mense kan veroorsaak,” het die hoofnavorser, dr. Lee Byeong-chun, gesê.
Die hond is geskep deur somatiese selkern-oordragtegnologie te gebruik wat die SNU in 2005 gebruik het om die wêreld se eerste gekloonde hond, Snuppy, te skep.
Aangesien daar 268 siektes is wat mense en honde in gemeen het, kan die skep van honde wat sulke simptome kunsmatig toon, help met die behandeling van siektes wat mense raak.
– Die Burger
- Reuters