Gevangenes help om bedreigde vlinderspesie te red
2012-08-31 14:54
Belfair, Amerika – ‘n Bedreigde vlinderspesie het sy oorlewing te danke aan ‘n groep vroue-gevangenes.
Die gevangenes by die Mission Creek Korrektiewe Sentrum vir Vroue in Belfair, Washington, help met die samewerking van hul wagte en nagraadse studente om die bedreigde Taylor’s Checkerspot-vlinder te teel, het The Huffington Post berig.
Die Sustainability In Prisons-projek (SPP) wat die Mission Creek-sentrum se deelname moontlik maak, het die inisiatief al in 2004 begin toe gevangenes gevra is om ‘n plaasvervanger vir mos, wat voorheen uit die woud verkry moes word, te kweek.
“Die wagte het altyd vertel hoe die gevangenes sou praat oor wie hulle leed aangedoen het, en toe begin hulle skielik gesels oor hoe mos groei,” het Dennis Aubrey, een van die studente wat by die projek betrokke is, gesê.
Die vroue het al meer as 3 600 vlinders geteel en beplan om hulle volgende jaar in die natuur vry te laat. Die gevangenes is ook besig met eksperimente om die lewensduur van plante te verleng; sodoende verskaf hulle ook nuwe data aan die wetenskaplike gemeenskap.
Lees hier meer
– Volg Nuus24 op Twitter