Getroudes wat baklei hou nooit op nie
2011-08-18 19:04
New York – As jy en jou eggenoot baie vassit en baklei, waarsku nuwe navorsing 'n mens moenie verwag dit gaan beter raak nie.
Die studie het bevind konflik duur onveranderd voort in die loop van ‘n huwelik.
Gelukkig geld die bevindinge ook vir vreedsame paartjies, het die navorsers gesê.
Die navorsers het die ontwikkeling van naastenby 1 000 paartjies se verhoudings oor die loop van 20 jaar bestudeer.
Hulle het 2 033 getroudes oor hul verhoudings met hul eggenote ondervra.
Die navorsers het ondersoek hoe gereeld die vrywilligers met hul eggenote vasgesit het: nooit, uiters min, soms, gereeld of baie gereeld.
“Daar was nie veel verandering oor die jare nie,” het die navorser Claire Kamp Dush van die Ohio State-universiteit gesê.
“Daar was wel ‘n effense afname in konflik by paartjies wat vroeër baie gereeld baklei het,” het sy bygevoeg.
“Die verandering was egter baie klein.”
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.