Getroude paartjie gesoek om na Mars te gaan
2013-02-28 12:06
Washington – ‘n Getroude paartjie kan oor minder as vyf jaar na Mars gestuur word as deel van ‘n private sending wat onder andere deur die wêreld se eerste ruimtetoeris gefinansier word.
Die Inspiration Mars-sending, 'n nie-winsgewende onderneming, sal die paartjie so naby as 161 000 m van Mars se oppervlakte neem, maar sal nie op die planeet land nie.
Die sending sal na verwagting sowat 16 maande duur, het Sky News berig.
Nasa, die Amerikaanse ruimteagentskap, sal nie by die sending betrokke wees nie.
Die sending se ondersteuners, wat die Amerikaanse multi-miljoenêr Dennis Tito insluit, beplan om ‘n private vuurpyl en kapsule te gebruik.
Die bemanningslede sal minimale kos, water en klere hê en hul urine sal ook herwin word om weer as drinkwater gebruik te word.
“Dit gaan nie ‘n maklike sending wees nie,” het Taber MacCallum, hoof- tegniese beampte en moontlike bemanningslid, gesê.
Tito sal glo die grootste deel van die sending finansier. Die sending sal in geheel meer as $1 miljard (sowat R8,8 miljard) kos, en kan so vroeg as Januarie 2018 begin.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter