Gesonde eetgewoontes kan kinders met AAS help
2012-01-09 12:20
Washington – Gesonder eetgewoontes kan die gedrag van kinders met aandag-afleibaarheidsindroom (AAS) verbeter as terapie en medikasie nie in die doel slaag nie, het ‘n studie wat Maandag in die joernaal Paediatrics gepubliseer is, getoon.
Nietemin het navorsers benadruk dat hul verslae oor onlangse beheerde wetenskaplike studies kontrasterende bewyse getoon het oor die impak van aanvullings en beperkte diëte – in sommige gevalle was dit niks beter as die plasebo-effek nie.
Ingrypings deur voeding moet dus gesien word as ‘n alternatief of sekondêre benadering om AAS te behandel, eerder as die primêre metode, het die verslag deur dokters aan die Northwestern Universiteit se mediese skool in Chicago gesê.
“’n Aanvullingsdieet is eenvoudig, relatief goedkoop en meer aanvaarbaar vir pasiënte en ouers,” in vergelyking met streng diëte sonder enige byvoegings wat in die verlede gewild was, het die studie getoon.
“Opleiding van die publiek rakende ‘n gesonde eetpatroon en leefstyl om AAS te voorkom of te beheer kan groter langtermynsukses hê.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP