Geskors nadat hy op Facebook oor werk kla
2012-02-09 09:10
Johannesburg – ’n Senior inspekteur by die Burgerlugvaartowerheid (BLO) is geskors nadat hy negatiewe kommentaar oor sy seniors op Facebook geplaas het.
Die BLO het Woensdag bevestig hy is geskors hangende die uitslag van ’n interne ondersoek.
Na verneem word, het die inspekteur, wat verbonde is aan die BLO se afdeling vlugoperasies, Saterdagmiddag op die sosiale netwerk verwys na onbevoegdheid by sy werkplek.
Hy het nêrens na die BLO of bepaalde kollegas verwys nie.
Daar was ook nie op sy profiel op die blad enige gegewens dat hy vir die owerheid werk nie – net dat hy ’n kontrakvlieënier is.
Iemand het vermoedelik die stukkie op die webwerf daarna aan sy seniors gestuur, waarna hy daaroor gekonfronteer is.
’n Senior bestuurder het voor ’n vergadering die saak opgehaal, waarna sy skorsingsbrief aan hom oorhandig is.
Volgens ingeligtes is dié voorval maar een van ’n rits interne struwelinge wat die laaste paar weke in die BLO tot uitbarsting gekom het.
Sowat twee weke gelede het die hoof van vliegveiligheid skielik bedank.
Obert Chakarisa het die afgelope 14 jaar verskeie poste by die owerheid beklee.
Volgens die owerheid gaan Chakarisa sy loopbaan elders voortsit.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld