Geld droog op vir natuurbewaring
2012-10-19 07:43
Hyderabad – Afgevaardigdes by 'n VN-beraad oor biodiversiteit in Hyderabad, Indië het teen Vrydag steeds gespook om ryk lande te oorreed om geld voor te skiet vir projekte om skade aan die aarde se natuurhulpbronne te verminder.
Ministers van meer as 80 lande sal hulle samesprekings oor verskeie omgewingsake Vrydag afsluit.
Lidlande van die VN het in 2010 by 'n konferensie in Japan besluit om met 'n plan vorendag te kom wat teen 2020 die kommerwekkende afname in natuurhulpbronne kan omkeer.
Dié 20-punt-plan word egter gekortwiek deur 'n gebrek aan fondse vir bewaringsprogramme terwyl Europa steier weens 'n ekonomiese krisis.
"Met die huidige finansiële krisis in Europa is dit onwaarskynlik dat ons môre 'n groot finansiële ooreenkoms sal hê," het Lasse Gustavsson, 'n bewaringskenner by die omgewingsgroep WWF, aan die nuusagentskap AFP gesê op die tweede laaste dag van die samesprekings.
Die beraad, wat onder die vaandel van die VN se Konvensie oor Biologiese Diversiteit gehou word, was veronderstel om tasbare maniere te identifiseer waarop biodiversiteit bevorder kan word.
Van die doelwitte sluit in om die verlies aan diere se natuurlike habitatte om te keer, om bewareas te vergroot, om die uitwissing van spesies te verhoed, en om minstens 15% van die wêreld se beskadigde ekostelsels te herstel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP