Gebed genees glo wel
2010-08-06 10:56
Washington – Gebed genees, het ‘n onlangse studie by die Indiana Universiteit glo bewys. Maar dit werk beter as die gelowiges wat bid, by die sieke staan.
Dis ook nie sommer enige skietgebed wat werk nie.
Gebede wat namens die siek persoon gedoen word in sy teenwoordigheid en mét fisiese kontak, is blykbaar die sleutel.
‘n Span mediese dokters en wetenskaplikes van Indiana Universiteit het ‘n studie op mense in Mosambiek met slegte sig en gehoor gedoen.
Die studie is gelei deur Candy Gunther, ‘n teologie-professor by die Indiana Universiteit.
Veertien hardhorende en 11 mense met swak sig is uit ‘n sametrek van ‘n Pinksterkerk in Mosambiek geroep.
Hulle gehoor en sig is met oudiometers en sigkaarte voor en na die biduur getoets, en dit was duidelik dat hul fisieke swakhede verbeter het ná daar oor hulle gebid is.
"Daar was 'n aansienlike verbetering in gehoor by 11 van die deelnemers," en "duidelike tekens van 'n verbetering in sig," lui die verslag, wat September in die Southern Medical Journal sal verskyn.
- AFP