Gaskoeldrank kan tot hoë bloeddruk lei
2011-03-01 10:44
Londen – Wetenskaplikes het die drink van suikersoet koeldranke, soos gaskoeldrank en vrugtesappe, met hoë bloeddruk verbind.
Hul bevindinge dui aan dat deur die inname van suiker en sout te verminder, dit die risiko van hoë bloeddruk sal verlaag.
Hoë bloeddruk, of hipertensie, is ‘n groot risiko-faktor vir hartkwale, wat wêreldwyd die grootste oorsaak van sterftes is.
In ‘n studie van meer as 2 500 mense in die VSA en Brittanje, het navorsers gevind dat vir elke ekstra blikkie van dié tipe koeldranke wat per dag gedrink word, het deelnemers hoë sistoliese bloeddruk gehad, met ‘n gemiddeld van 1,6 mmHg en ‘n hoër diastoliese lesing met ‘n gemiddeld van 0,8 mmHg.
Die verskil was merkwaardig, selfs as faktore soos gewig en lengte in ag geneem is, het die wetenskaplikes Maandag in ‘n studie in die joernaal Hypertension geskryf.
Bloeddruk is die hoogste wanneer die hart klop en die bloed pomp. Dit word sistoliese druk genoem.
Tussen hartkloppings, wanneer die hart rus, daal die bloeddruk. Dit word diastoliese druk genoem.
In die studie was die verband tussen suikerdrankies en hoë bloeddruk veral sterk by mense wat baie sout en suiker ingeneem het.
Dit het vorige bevindinge bevestig dat ‘n hoë soutinname tot hoë bloeddruk kan lei.
“Dit is algemeen bekend dat as jy te veel sout in jou dieet het, jy meer geneig sal wees om hoë bloeddruk te ontwikkel. Die resultate van hierdie studie stel voor dat mense versigtig moet wees met hoeveel suiker hulle inneem,” het Paul Elliott van die Imperial Kollege in Londen gesê.
“In die tussentyd wil ons mense wat suiker-versoete drankies wil drink aanbeveel om dit te beperk.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters