Gas in Karoo: 'SA sit op goud'
2011-11-12 08:32
Johannesburg – Die ontginning van skaliegas kan Suid-Afrika help om weg te beweeg van steenkool en kernkrag as energiebronne.
Volgens die nasionale beplanningskommissie (NBK) dui voorlopige berekenings daarop dat die land boonop deur die ontginning van gas (metaan-, sowel as skaliegas) teen 2030 in die grootste deel van sy energiebehoeftes sal kan voorsien.
Die NBK het sy ontwikkelingsplan Vrydag in Pretoria aan pres. Jacob Zuma oorhandig.
Suid-Afrika is vir meer as 90% van sy energiebehoeftes afhanklik van steenkool, die grootste sondaar wat klimaatsverandering aanhelp. Deur steenkool met gas te vervang, kan Suid-Afrika sy massiewe koolstofvoetspoor drasties verklein, lui die kommissie se verslag.
Moontlikhede wat ondersoek sal word, sluit in die ontginning van skaliegas in die Karoo, metaangas wat van steenkoollae afgetrek word en die invoer van vloeibare gasbronne.
Prof. Mike Muller, lid van die NBK, het gisteraand gesê: “Ek weet die omgewingsgroepe gaan drasties daarop reageer, maar dit sal gek wees om nie met prospektering te begin sodat ons kan uitvind wat die waarheid is nie.
“Op die oomblik sit ons met halwe waarhede. Omgewingsdrukgroepe wil ons nie eens toelaat om uit te vind hoeveel gas die land het nie.”
Volgens hom het ’n onlangse studie deur die Amerikaanse energie-en-inligtingsadministrasie gewys Suid-Afrika het die vyfde grootste skaliegasbronne ter wêreld. “Dit sal mos nou verspot wees om op ’n pot goud te sit en dit nie te gebruik nie.”
Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG), het gesê die NBK begaan ’n fout deur te veronderstel dat skaliegas Suid-Afrika uit sy koolstofdilemma gaan kry. Verskeie internasionale studies dui daarop dat die ontginning van skaliegas metaan vrystel wat tot 23 keer kragtiger as koolstofdioksied is.
As die NBK dus meen die Amerikaanse studie is korrek, is dit duidelik die wetenskaplike gemeenskap praat nie met een stem nie, het Deal gesê.
Die TKAG meen dis voortydig van die NBK om oor prospektering van skaliegas in Suid-Afrika te praat terwyl daar soveel geheimsinnigheid rondom die regeringstaakspan is.
Luidens die verslag gaan proefnemings eersdaags begin om vas te stel wat die moontlikheid is vir die ontginning van metaangas waar groot steenkoolneerslae in die land bestaan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld