Galaxy SIII laat dollars inrol vir Samsung
2012-06-25 11:53
Seoel – Suid-Korea se Samsung Electronics, die wêreld se grootste vervaardiger van slimfone, het Maandag gesê hy verwag om 10 miljoen van sy nuwe Samsung SIII-fone teen die einde van Julie te verkoop.
Dié nuus kom slegs twee maande ná dié nuwe model se bekendstelling.
J.K. Shin, hoof van die maatskappy se departement vir mobiele kommunikasie, het gesê dié slimfoon se verkope sal die maatskappy help om in die tweede kwartaal 'n goeie wins te behaal.
"Ons kry meer positiewe resensies vir die Galaxy SIII as die Galaxy SI en SII sedert die bekendstelling in Europa, die Midde-Ooste en Suidoos-Asië op 29 Mei," het Shin Maandag gesê.
Hy het geskat dat die wêreldwye verkope van die nuwe model, wat tans in 147 lande beskikbaar is, teen volgende maand meer as 10 miljoen eenhede sal bereik.
"Ons doen redelik goed in ontluikende markte... Ek dink ons verdienste in die tweede kwartaal sal beter wees as in die eerste kwartaal, ten spyte van die moeilike ekonomiese situasie in Europa," het Shin gesê.
Die derde Galaxy S-model bied gesigsherkenningstegnologie en verbeterde stem-geaktiveerde beheer, sowel as 'n kragtiger verwerker wat gebruikers toelaat om gelyktydig video te kyk en e-posboodskappe te stuur.
Dit spog met 'n skerm van 12,2 cm, 22% groter as dié van die S2, en kan selfs 'n gebruiker se oogbewegings dophou.
Samsung het 44,5 miljoen slimfone in die eerste kwartaal versend – selfs meer as sy Amerikaanse mededinger, Apple, wat 35,1 miljoen selfone versend het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP