Foto: Nag-apie word bobbejaan se kind
2011-06-13 08:58
Nairobi – ’n Nag-apie wat deur sy ouers weggegooi is en ’n bobbejaan by ’n diereskuiling in Nairobi, Kenia het onwaarskynlike kamerade geword.
Die ses maande oue wyfiebobbejaan, wat deur haar trop in Maralal in die noorde van die land agtergelaat is, versorg die drie maande oue nag-apie. Dié apie is in sentraal-Kenia agtergelaat.
Charles Musyoki, ’n senior wetenskaplike vir spesies en bewaring by die Keniaanse Natuurlewediens, het Vrydag gesê ’n band tussen die diere het waarskynlik ontwikkel om hulle in die nuwe omgewing by die diereskuiling te help aanpas.
“Dit is ’n situasie waar twee individue mekaar nodig het en ’n behoefte het aan ’n band tussen hulle, omdat hulle in die afwesigheid van hul ouers en hul troppe moet oorleef.
“Wanneer twee diere hulle in so ’n situasie bevind, neig hulle om ’n band te vorm en vriendskappe aan te knoop,” het Musyoki gesê.
Hy het gesê so ’n verbintenis tussen spesies is skaars en is laas in 2002 in Kenia aangeteken, toe ’n leeuwyfie ’n jong gemsbok aangeneem en versorg het, ten spyte daarvan dat leeus gewoonlik op dié bokke jag maak.
Volgens Musyoki sou daar in die natuur nie so ’n verhouding tussen hierdie twee diere gewees het nie. Die bobbejaan is bedags aktief en slaap snags, terwyl die nag-apie ’n nagdier is, het hy gesê.
“In die natuur word hulle deur die tyd van die dag in twee duidelik onderskeibare groepe verdeel,” het Musyoki gesê. “’n Band het in hierdie geslote omgewing ontstaan omdat die twee diere wat in nood verkeer, mekaar nodig het vir geselskap.”
Die twee diere sal van mekaar geskei moet word wanneer hulle ouer is, het Musyoki bygevoeg.
- Die Burger
- Sapa - AP