Flater lei tot streng Twitter-reëls in Filippyne
2010-11-09 15:02
Manila - Twitter-grappies oor slegte wyn en ‘n gebrek aan aantreklike mans in Viëtnam deur een van die Filippynse president, Benigno Aquino, se toespraakskrywers het gelei tot streng ingryping in regeringsbeamptes se gebruik van sosiale media.
Die Filippyne het Dinsdag gesê die land het ‘n stel reëls goedgekeur om die gebruik van sosiale media deur regeringswerknemers beter te regeer ná die vernederende flater deur die werknemer.
Uitvoerende personeel word tydelik verbied om Twitter te gebruik ná ‘n regeringsbeampte, Maria Carmen Mislang, op dié sosiale netwerk oor Viëtnamese wyn, mans en die groot hoeveelheid motorfietse in die strate gekla het tydens ‘n staatsbesoek twee weke gelede.
"The wine sucks @rickycarandang," het Mislang getwiet oor ‘n staatsete, na aanleiding van ‘n blykbare vraag deur haar direkte baas – Aquino se woordvoerder, Ricky Carandang.
Mislang het later die opspraakwekkende twiets uitgevee en om verskoning gevra.
“Die reëls is ‘n lys moets en moenies en daar moet nou net kommunikasie wees oor hoe dit uitgevoer gaan word,” het die adjunkwoordvoerder van die president, Abigail Valte, gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP