Feeste sedert oertyd gewild
2010-09-06 07:48
Kaapstad – Groot partytjies met tafels wat kreun onder die kos is nie ’n nuwe verskynsel nie.
Ritualistiese feesmaaltye, waarin groot beeste en tientalle skilpaaie verorber is, is duisende jare gelede in ’n grot in die hedendaagse Israel gehou.
Die grot, in die Galilea-streek, dateer van die era voor landbou, sowat 12 000 jaar gelede. Dit is die eerste bewyse dat mense op groot skaal feesgevier het, voordat daar tydens die Neolitiese era met landbou begin is.
Dié navorsing is pas in die vaktydskrif Proceedings of the National Academy of Sciences bekend gemaak deur drs. Natalie Munro van die Connecticut-universiteit in Amerika en Leore Grosman van die Hebreeuse Universiteit in Israel.
Die mense van die Natufiaanse kultuur het destyds in daardie omgewing gebly. Die grot, bekend as Hilazon Tachtit, bevat die oorskot van 28 mense.
Die navorsers het ook die oorskot van 71 skilpaaie in ’n ovaalvormige graf, uitgelê met klippe, gekry. Dit is op ’n rituele manier daar geplaas, saam met die lyk van ’n ouer, vroulike sjamaan.
Munro het per e-pos aan Volksblad gesê nadere ondersoek het getoon die vrou was oud toe sy gesterf het, asook dat sy ’n geboortedefek gehad het wat haar mank sou laat loop het. Haar skedel is netjies op die dop van ’n skilpad geplaas.
Volgens die navorsers sou die skilpaaie alleen genoeg kos gewees het vir 35 mense. Daar is ook die oorskot van ’n wilde vark, ’n arend en ’n luiperd by haar begrawe.
Die bene van drie uitgestorwe wildebeeste, genaamd die aurochs of urus, is in ’n ander ovaalvormige put in die grot gevind. Die aurochs ( Bos primigenius) is die voorsaat van die hedendaagse huishoudelike beeste.
Die diere was groot en sou vir baie mense op een slag kon kos gee, meen die navorsers.
“’n Groot rede hoekom mense begin het om fees te vier – en later begin het om hul eie kos te kultiveer – is omdat bevolkingsgroei druk op die landskap geplaas het. Vroeër kon mense rondbeweeg om kos te kry. Maar teen die tyd dat dié fees plaasgevind het, het dié leefstyl moeiliker geraak,” het Munro in ’n verklaring gesê.
Hoe meer mense met mekaar in kontak gekom het, hoe meer wrywing was daar tussen groepe. Sulke feeste was belangrik om sosiale stres te ontlont en verhoudings te smee – veral gedurende dié moeilike tyd.
“Die begin van feesmaaltye kort voor die begin van landbou is spesifiek interessant, want mense het begin eksperimenteer met aanplanting. Die kombinasie van sosiale interaksie en veranderings in bronne het dus tot die landbou gelei,” sê Munro.
- Volksblad