Familie leeus in Rietvlei groei aan
2011-08-22 09:06
Pretoria – Die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria is drie jong leeus ryker.
Tau en sy twee sussies, Serabi en River, is onlangs deur die MacRae-familie, die eienaars van die Horseback Africa Lodge naby De Tweedespruit, Cullinan, aan die reservaat geskenk.
Die jaar oue leeus het te groot geword om by die lodge gehuisves te word.
Riaan Marais, bestuurder van die reservaat, het gesê elk van dié leeus het hul eie geaardheid.
“River is die oorheersende en groter wyfie, terwyl Serabi die stil een is. Tau is weer baie spelerig.”
Dié reservaat is nou die tuiste van ses leeus.
In 2009 is die tweejarige leeumannetjie Jarvis en sy twee sussies, Bashi en Tawana (ook twee jaar oud), as deel van ’n samewerkingsooreenkoms tussen die Nasionale Dieretuin in Pretoria en die Tshwane-metro hiér vrygelaat.
Volgens Marais sal die twee troppies leeus roteer word tussen die 150 ha-leeukamp en hul sogenaamde slaapkamp van sowat een hektaar.
In die kleiner kamp word die leeus gevoer met dooie vee wat boere in die omgewing aan die reservaat skenk.
Marais het gesê ingevolge die samewerkingsooreenkoms mag die mannetjies nie die wyfies bevrug nie en sal die vier wyfieleeus later kunsmatig bevrug word om die genepoel te verbreed.
Jarvis het vroeër ’n vasektomie gehad.
“Tau sal dieselfde paadjie moet stap, maar hy is nog te jonk om nou al dié operasie te ondergaan.”
Jarvis laat hom egter nie hierdeur afskrik nie en paar steeds met die wyfies.
As die kunsmatige bevrugting slaag, sal Jarvis en ook Tau in die toekoms ’n ander maanhaar se kleintjies grootmaak.
Besoekers aan die reservaat kan in die geselskap van ’n gids die leeus uit ’n oop voertuig besigtig.
Geen private voertuie word in die leeukamp toegelaat nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld