Facebooker vat verkeerspolisie vas
2010-11-01 11:00
Duncan Alfreds
Kaapstad – ‘n Facebook-gebruiker beweer dat ‘n hoë persentasie van verkeersboetes onwettig is en het ‘n Facebook-groep gestig om die publiek daarvan in kennis te stel.
“Sommige boetes het ‘n hoë vlak van onwettigheid en ander is onwettig weens sekere kleiner ongerymdhede,” het die Facebook-gebruiker gesê, wat homself Public Servant noem.
“In sommige gevalle het die beamptes nie ‘n lasbrief om ‘n spoedlokval in ‘n sekere area op te rig nie. Indien hulle wel ‘n lasbrief het, mag die spoedlokval nie verder as 500m vanaf die gespesifiseerde area af wees nie. Daar is ook ‘n tekort aan die nodige dokumentasie in sommige gevalle,” het Public Servant gesê.
“Die hoek van die kamera en selfs die wyse waarop dit opgerig is moet aan sekere reëls en regulasies voldoen.”
Die Facebook-groep het reeds meer as 14 000 lede en het gereelde opdaterings oor waar verkeersbeamptes in Suid-Afrika gestasioneer is.
Volgens Public Servant gebruik hy Facebook omdat dit gratis is en reeds ‘n reuse-hoeveelheid gebruikers het.
“Ek het gevoel dit is tyd dat ek my ervaringe met ander mense deel. Ek het lank daaroor gedink voordat ek die Facebook-groep gestig het.”
Behalwe vir Facebook is die sosiale netwerk Twitter ook glad nie bang om die verkeerspolisie aan te vat nie.
PigSpotter, ‘n Twitter-gebruiker, stuur gereelde tweets uit waarin hy padgebruikers waarsku oor waar verkeerskameras opgerig is.
Volg Nuus24 op Twitter.
-Nuus24