Facebook verkoop moeilik in China
2011-02-16 08:39
Hongkong – Facebook beoog moontlik om na die Chinese vasteland te skuif as die verbod op die webtuiste hier gelig word.
China het die wêreld se grootste internet-bevolking, met sowat 420 miljoen gebruikers. Dit is ’n uiters winsgewende mark, maar daar is baie dominante plaaslike handelsmerke, tegniese uitdagings en die bedreiging van sensuur.
Beijing het ’n reuse-aanlyn-sensuurstelsel wat webtuistes en internet-inhoud wat as sensitief beskou word aggressief blokkeer.
Die stelsel verhoed toegang tot Facebook vir meeste van China se webgebruikers.
Die sleutelrol wat die webtuiste in die betogings in Egipte en Tunisië gespeel het sou ook nie deur Chinese owerhede ongesiens gaan nie.
Maar Facebook het verlede week gesê dit het ’n kantoor in Hongkong oopgemaak, die derde in Asië, terwyl Mark Zuckerberg China in Desember besoek het.
“Op die oomblik het ons geen planne om ’n toetrede in China se vasteland te bespreek nie,” het Facebook se Blake Chandlee, adjunkpresident en kommersiële direkteur vir ontluikende markte, Vrydag by die Honkong Sosiale Mediaweek gesê.
Facebook het alreeds ’n beraamde 14 miljoen Chinese-taal gebruikers, meestal van Taiwan, Singapoer en Hongkong. Hierdie getal sal na verwagting groei.
Al kry Facebook wettiglik toegang tot die Chinese mark, meen sommige waarnemers die webtuiste sou moeilik by plaaslike voorkeure aanpas.
Meg Lee, algemene bestuurder van die Hongkong weergawe van Sina.com, ’n Chinese mikro-blogdiens soortgelyk aan Twitter, het gewaarsku dat enige nuweling in die Chinese mark, waar Twitter ook verban is, met die land se streng sensuurbeleid sal moet stoei, alhoewel sekere regulasies geleidelik verslap word.
Die grootste hindernis vir Facebook en ander firmas wat China se mark wil betree mag moontlik China se onbetroubare internet-infrastruktuur en hope burokratiese rompslomp wees, het Li Lei, hoof van aanlyn beginnermaatskappy Wincasting, gesê.
“Dit is nodig om goedkeuring van verskeie regeringsdepartemente te kry,” het Lei gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP