Facebook-stigter Zuckerberg is persoon van die jaar
2010-12-15 22:47
New York - Die stigter en uitvoerende hoof van Facebook, Mark Zuckerberg, is aangewys as Time se persoon van die jaar vir 2010.
Hierdie titel word uitgedeel vir die persoon wat - volgens Time - die grootste invloed op gebeure wêreldwyd oor die afgelope jaar gehad het.
Zuckerberg is 26 jaar oud, wat hom die tweede jongste "Persoon van die jaar" maak, na Charles Lindbergh (25) wat in 1927 as die tydskrif se eerste "Persoon van die jaar" aangewys is.
Die rekenaarboffin het Konigin Elizabeth II met twee weke geklop. Sy was 26 toe sy in 1952 hierdie titel ontvang het. Die konigin het ook onlangs by Facebook aangesluit.
In 2008 was Barack Obama Time se "Persoon van die jaar". U2 se voorsanger Bono is ook al gekroon.
Volgens Time het Zuckerberg "die wyse waarop ons leef heeltemal verander".
Op sy eie Facebook-profiel het die wonderkind gesê "dit is 'n eer en erkenning van hoe ons klein span werk aan iets wat honderde miljoene mense nader aan mekaar bring."
- Sapa-AP