Facebook sal voortaan gesigte herken
2010-12-17 11:33
San Francisco - Facebook in Amerika span nou sagteware in wat gebruikers outomaties volgens hul gelaatstrekke op foto's kan identifiseer.
Binne die volgende paar weke sal hierdie nuwe tegnologie bekendgestel word. Dit sal van toepassing wees in Facebook se opsie om mense in foto's te identifiseer, of te "tag" soos dit algemeen bekend staan.
"In plaas daarvan dat jy nou jou vriende op die foto moet "tag", sal die sosiale platform dit sommer self vir jou doen, gebaseer op jou vriend se gelaatstrekke," het Justin Marshall, Facebook-ingenieur in een van sy blogs gesê.
Volgens Marshall word meer as 100 miljoen persone daagliks aan foto's geheg op Facebook.
"In plaas daarvan dat 'n mens dan elke keer 'n persoon se naam moet intik, doen jy dit een keer. Die persoon se gesig word dan aan die naam gekoppel en voortaan sal die program dan die persoon vir jou identifiseer."
- AFP