Facebook lei tot vele egskeidings
2012-01-08 08:42
Johannesburg – Die sosiale netwerk Facebook is verantwoordelik vir tot ’n derde van egskeidings wat deesdae in sommige lande plaasvind.
’n Peiling wat deur ’n prokureursfirma in Brittanje gedoen is, toon flankerende boodskappe en onthullende foto’s wat op dié webwerf verskyn, kan deesdae in tot 33% van egskeidings ’n rol speel.
Mark Keenan van Divorce-Online, die web-firma wat die peiling gedoen het, sê Facebook maak dit ook maklik vir mense om skelm verhoudings te hê of met derde partye te flankeer.
“Al hoe meer Facebook-bewyse word in die skeihowe gewys.”
Facebook is deesdae die primêre metode van kommunikasie vir talle mense, sê Keenan.
“Mense maak kontak met ou geliefdes en die boodskappe is glad nie so onskuldig nie. Dit lei tot moeilikheid.”
Boonop maak Facebook dit maklik vir mense om uit te vind met watter onderduimse bedrywighede hul huweliksmaats besig is.
In dieselfde peiling is bevind Twitter speel ’n rol in 20% van egskeidingsake. In dié geval is die probleem mense wat lelike boodskappe oor hul geliefdes plaas. Facebook het egter vandeesweek teruggekap en gesê dit is absurd.
“Ons stel voor die mense wat die peiling gedoen het, moet bietjie na ander gewilde kommunikasiemiddels soos SMS’e, kletskamers en e-pos kyk,” sê Fred Wolens, bestuurder van openbare beleid vir Facebook, in ’n verklaring.
In Suid-Afrika het ’n paartjie se skeiding onlangs op Facebook gedraai toe ’n man ’n foto van sy eks, waar sy met hom seks het, op die winkelgroep @home se Facebook-blad gelaai het. Die foto was meer as drie uur lank op @home se blad voordat hulle dit besef het, die gebruiker geblokkeer en ’n verskoning op hul blad geplaas het. Die vrou is glo een van hul werknemers.
Kathryn Sakalis, ’n woordvoerder vir @home, sê hulle het hul ondersteuning aan die vrou gegee. “Die foto is deur haar vorige maat, wat vir ’n ander kleinhandelaar werk, opgelaai. Die foto is ook op ander Facebook-profiele gelaai.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport