Facebook ingespan om skuldiges te vang
2011-01-12 22:00
Parys – Die Franse polisie, vertroud met hoe die internet werk, het begin om sosiale netwerke soos Facebook in te span om getuies te vind vir tref-en-trap ongelukke.
Dié taktiek het egter reeds kritiek uitgelok en word as ‘n tipe spioenasie, wat aan Big Brother herinner, beskryf.
Internetgebruikers wat aangesluit het by die polisie in Parys se Facebook en Twitter-blaaie, is uitgenooi om informasie te verskaf wat die talle tref-en-trap ongelukke in woonbuurte kan oplos.
‘n Skakel van die polisie se Facebook en Twitter-blaaie vat hulle direk na die polisie se hoof-webblad.
Hier kan hulle informasie kry oor die voorvalle, soos datums, tye, omstandighede en ‘n kaart van die omgewing.
“Dit kan baie bydra tot die oplossing van sekere misdade.
“Iemand kon maklik iets gesien het en dit eers later onthou,” het Xavier Castaing, hoof van kommunikasie vir die polisie in Parys, gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.