Facebook in verleentheid oor 'smeerveldtog'
2011-05-13 12:12
New York – ‘n Mislukte poging tot ‘n smeerveldtog teen die internetreus Google het vir Facebook in 'n groot verleentheid ontaard.
Die sosiale netwerk het die beeldpoets-maatskappy Burson-Marsteller genader om te help met dié bekladdingsveldtog, het die Huffington Post berig. Dié veldtog was volgens berigte daarop gemik om dit vir Google moeilik te maak om die wêreld van sosiale media met mening te betree.
Facebook wou glo die sogenaamde Google Social Circles-produk se beweerde privaatheidskendings aan die wêreld ontbloot.
Die planne is egter in die wiele gery toe 'n blog-skrywer wat Burson-Marsteller gekontak het om Google aanlyn sleg te sê, die e-posse tussen hom en Facebook gepubliseer het.
'n Berig in The Daily Beast het Facebook uiteindelik gedwing om te erken dat hulle Burson Marsteller wel genader het – maar die maatskappy hou vol dat dit nie 'n smeerveldtog was nie. Die veldtog was volgens Facebook-woordvoerders bloot daarop gemik om gebruikers bewus te maak van moontlike privaatheidskendings deur Google.
Lees die volledige storie hier.
Volg Nuus24 op Twitter.