Facebook-flater lei tot 1 500 gaste by partytjie
2011-06-06 07:04
Berlyn. – ’n Tienermeisie in Duitsland het vergeet om haar partytjie-uitnodiging op Facebook privaat te merk. Gevolglik het 1 500 gaste opgedaag en 100 polisiebeamptes was nodig om die skare te beheer.
Elf partytjiegangers is tydelik aangehou, een polisiebeampte is beseer en dosyne meisies wat plakkies aangehad het, het hul voete op gebreekte glas gesny.
Verder moes die brandweer twee klein brande by dié sestiende verjaardagpartytjie in Hamburg blus, het insp. Mirko Streiber, ’n polisiewoordvoerder, gister gesê.
Die verjaardagmeisie, wat net as Thessa bekend is, het weggekruip, het Streiber bygevoeg, maar “die partytjie was nietemin ’n sukses”.
Thessa wou aanvanklik net ’n paar vriende na haar ouerhuis in Hamburg-Bramfeld oornooi toe sy die uitnodiging op Facebook geplaas het. Sy het dit per abuis só geplaas dat almal op Facebook die uitnodiging kon sien. Dit het gou “viraal” geraak en sowat 15 000 mense het aanlyn bevestig hulle sou na die partytjie kom, sonder dat hul Thessa ken, het die koerantBild am Sonntag berig.
Toe Thessa se ouers daarvan te hore kom, het hulle haar gedwing om die partytjie te kanselleer, die polisie in kennis gestel en ’n private sekerheidsdiens gehuur om hul huis Vrydagnag te beskerm.
Ondanks die openbare aankondigings in Hamburg dat die partytjie gekanselleer is, het sowat 1 500 tieners en jong mense in die straat voor Thessa se ouerhuis opgedaag. ’n Polisiebeampte is beseer toe hy probeer het om ’n partytjieganger te verhoed om die Mercedes-Benz-kenteken van sy patrolliemotor te breek.
Thessa was nêrens in sig nie. Die polisie het bevestig sy “was nie die aand by die huis nie” en Bild het berig sy het haar verjaardag saam met haar grootouers by ’n onvermelde plek gevier.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP