Facebook bring groot veranderinge aan
2011-09-22 16:57
New York – Gebruikers van Facebook het Woensdag uitgevaar teen die nuwe veranderinge wat ontwerp is om die gebruik van die sosiale netwerk te vergemaklik.
Gebruikers het op verskeie sosiale media-platforms gekla en het ‘n Facebook-blad genaamd "Petition against the new Facebook homepage" en ‘n Twitter-hutsmerker #NewFacebook geskep om hulle frustrasies te laat hoor.
“#NewFacebook is soos Amerika,” het een gebruiker getweet. “Baie ontevrede mense, maar niemand gaan Facebook verlaat nie."
Sommige gebruikers het gesê die veranderinge is ‘n skuif om brokkies op ‘n soortgelyke manier as Google se sosiale netwerk, Google+, en Twitter te bestuur.
Facebook se nuusstroom gee nou voorkeur aan belangrike brokkies, foto’s en webtuistes en dié word groter op die sogenaamde News Feed uitgestal.
Facebook het ook verlede week ‘n nuwe funksie bekendgestel wat gebruikers in staat stel om in te skryf op bekende gebruikers se brokkies met die Subscribe-knop.
Dié funksie is soortgelyk aan Twitter se Follow-knop.
– Kliek hier om Facebook se nuwe profiel te kry.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP