Facebook beloon mense wat foute rapporteer
2011-08-30 20:59
Los Angeles – Facebook het reeds belonings van sowat R280 000 uitbetaal aan gebruikers wat sekerheidsgoggas op die sosiale netwerk aan hulle bekendmaak.
Facebook moedig sekerheidsnavorsers aan om te help om die sosiale netwerk se mure teen kuberaanvalle te versterk.
Een sekerheidsnavorser is met sowat R49 000 beloon ná hy ses ernstige goggas op die netwerk gevind het.
Joe Sullivan, Facebook se hoof van sekerheid, het op die netwerk se blog inligting oor die program bekendgemaak.
“Ons besef daar is baie sekerheidsnavorsers regoor die wêreld wat goeie bedoelings het, maar hulle werk nie vir Facebook nie,” het hy geskryf. “’n Paar jaar gelede het ons besluit om die program te stig om hulle aan te moedig om goggas in ons netwerk aan ons te rapporteer.”
“Oor die jare het ons uitstekende ondersteuning van onafhanklike navorsers ontvang,” het hy gesê.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.