Facebook, Twitter sê wanneer siekte kom
2011-11-02 13:14
Londen – Die manier waarop mense sosiale netwerke soos Twitter en Facebook gebruik kan help om die uitbreek van siektes te voorspel, het navorsers bevind.
Die navorsers Nello Cristianini en Vasileios Lampos van die Bristol-universiteit in Brittanje het Twitter-boodskappe ontleed en bevind tweets op dié sosiale netwerk kan gebeure in die toekoms help voorspel.
Hulle het oor verskeie maande 50 miljoen tweets in ‘n afgebakende gebied met data van die land se nasionale gesondheidsdiens vergelyk.
“Twitter, veral, moedig sy 200 miljoen gebruikers aan om hul geografiese ligging by hul tweets te sit en dit vir die publiek toeganklik te maak,” het Cristianini gesê.
Die navorsers het bevind sleutelwoorde in die tweets kan gebruik word om die verskynsel van ‘n griepepidemie in die gebied te voorspel.
Waar die sleutelwoorde vir griep meer voorgekom het, was daar meer doktersbesoeke weens griepkwale.
Die navorsing is in die joernaal ACM Transactions on Intelligent Systems and Technology gepubliseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.