Eskom-betogers vry, sal in hof verskyn
2012-10-24 08:45
Johannesburg – Altesaam 14 omgewingsaktiviste wat Dinsdag by Eskom se Megawatt Park in Johannesburg in hegtenis geneem is, is op borgtog vrygelaat, het die Gautengse polisie gesê.
“Hulle is gisteraand vrygelaat, maar sal vanoggend nege-uur in Randburg se landdroshof verskyn,” het kapt. Paul Ramaloko Woensdag gesê.
Mbong Akiy, Greenpeace se woordvoerder, het die vrylating bevestig.
“Hulle is gisteraand om elfuur vrygelaat.”
“Die aktiviste is in hegtenis geneem vir betreding en kwaadwillige beskadiging van eiendom toe hulle Dinsdag by Eskom se hoofkantoor betoog het.
Altesaam 12 van die betogers verteenwoordig Greenpeace, terwyl een ander van die organisasie Groundwork is, en 'n ander Earthlife Africa verteenwoordig.
Die groep het op die dak van die hoofkantoor geklim en ‘n banier daarop aangebring wat sê dat Eskom "onder nuwe bestuur" is.
Altesaam sewe ander aktiviste het hulle aan ‘n tafel buite die gebou vasgeketting om te betoog teen Eskom se gebruik van steenkool en die maatskappy se besluit om vir 'n jaarlikse tariefverhoging van 16% vir die volgende vyf jaar aansoek te doen.
Eskom se voorgestelde tariefverhoging sal die prys van elektrisiteit van 61 c per kilowatt-uur in 2012/13 tot R1,28 per kilowatt-uur in 2017/18 opstoot.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA