Epilepsie in babatyd vergroot agterstand
2011-06-06 09:44
Johannesburg - Kinders wie se epilepsie reeds in hul babajare ontstaan, het reeds voorskools ’n sterker moontlikheid om kognitiewe agterstande te hê.
Navorsers in Finland het in ’n studie onder voorskoolse kinders bevestig wat reeds in vorige studies onder ouer kinders bevind is.
Luidens ’n artikel in die joernaal Epilepsia het navorsers aan die Universiteit van Tampere in Finland gekyk na 64 kinders met epilepsie in ’n gesondheidsdistrik.
Hulle was gemiddeld vyf jaar oud.
Die voorkoms van die toestand was sowat 3 kinders per 1 000 in die distrik en het gewissel van epilepsie wat goed beheer word met medisyne tot baie ingewikkelde gevalle.
Veertien was neurologies so gestrem dat hulle nie geëvalueer kon word nie en drie het deelname geweier.
Die navorsers het die res van die kinders se IK gemeet en gekyk na verslae van sielkundiges, ouers en dagsorgpersoneellede.
Die helfte van die kinders is verstandelik normaal, maar selfs in dié groep was daar grensgevalle. 22% van die groep is matig ingeperk en 28% ernstig ingeperk.
Die navorsers het bevind hoe vroeër die kinders se aanvalle begin het, hoe groter is hul agterstand.
Hulle wys daarop dat die agterstand nie noodwendig die gevolg is van verstandelike gestremdheid nie en moontlik die gevolg kan wees van ontwikkelingsagterstande.
Daarom kan vroeë ingrypings die kinders dalk help.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld