En die lelikste mense is...
2009-11-13 05:50
Londen- Volgens ‘n kontroversiële nuwe webtuiste, Beautifulpeople.com, is die Britte van die lelikste mense op aarde.
Dié webtuiste gee alleenlopers die kans om lewensmaats te vind, maar met een groot verskil. Net mooi mense mag deel word van hierdie “eksklusiewe” diens.
Slegs een uit elke agt Britse mans en drie uit elke twintig Britse vroue, wat aansoek gedoen het om deel te word van die webtuiste, is aanvaar.
Hoe werk dit?:
Die webtuiste vereis dat elke persoon wat wil aansluit ‘n foto instuur. Dan moet die persone wat reeds lede is binne 48 uur stem en besluit of die nuwe lid toegelaat mag word tot die netwerk van mooi mense.
Bestaande lede moet kies tussen die volgende opsies as hulle stem; “Ja verseker”, “Hmm ja, Okay”, “Hmm nee, nie regtig nie” en “Beslis nie”.
Hoe vorder die res van die wêreld?:
“Sweedse mans vorder die beste met 65% van alle aansoeke wat aanvaar word. Die vroue van Noorweë het ‘n allemintige 76% suksessyfer,” het ‘n woordvoerder van die webtuiste gesê.
Die Britte se grootste probleem is glo die feit dat hulle nie na hulself omsien nie. “Hulle kort afrondingswerk en moet bietjie meer tyd aan hulle voorkoms spandeer.”
Russiese en Poolse mans kry ook maar swaar en sukkel om deel te word van hierdie webtuiste. Russiese vroue het egter ‘n 44% suksessyfer.
Die Duitsers stuur glo die lelikste foto’s in. “Hulle sal beter doen as hulle mooier foto’s instuur.”
Waar kom die webtuiste vandaan?:
Die webtuiste is reeds in 2002 in Denemarke bekendgestel maar het eers verlede maand vir die res van die wêreld se mooistes sy deure oopgemaak. Sedertdien het sowat 1.8 miljoen aansoekers reeds die trekpas gekry.
–Reuters