Empatie ontbreek by rassiste, wys studie
2010-06-01 08:20
Kaapstad – Die stereotipe van rassisme verminder die empatie wat mense vir mekaar voel, sonder dat hulle eksplisiet daarvan bewus is.
Dié navorsing is in die jongste uitgawe van die vaktydskrif Current Biology gepubliseer.
Wanneer ’n mens die pyn van ’n ander persoon sien of dit indink, reageer die senuweestelsel op dieselfde manier as wanneer jy dit self ervaar. Die nuwe navorsing toon egter dat dié tipe empatie afneem wanneer mense (wit of swart) wat rassevooroordele het, sien hoe pyn uitgedeel word aan diegene van ’n ander ras.
Die goeie nuus is mense toon weer empatie wanneer die pyn uitgedeel word aan ander wat nie in ’n gestereotipeerde ras val nie – in hierdie geval was dit ’n pers kleur.
Dit beteken mense sal as ’n reël empatiseer, tensy vooroordele betrokke is, het dr. Salvatore Maria Aglioto van die Sapienza-universiteit in Rome, wat die navorsing gelei het, gesê.
Die studie is gedoen onder mense van Italiaanse en Afrika-herkoms. Hulle moes na kort films kyk waarin die hande van beide rasse met naalde gesteek is of waarin dit saggies op dieselfde plek met ’n oorpluisie gevryf is (kontroletoets). Hulle empatiese respons is gemonitor.
Met die gebruik van transkraniale magnetiese stimulasie kon die verandering in die prikkelbaarheid van spesifieke spiere gemeet word. Die navorsers het ’n spesifieke kenmerk genaamd sensorimotoriese kontak gemeet.
Die resultaat het gewys die mense wat na die pynlike episodes gekyk het, het op ’n manier reageer wat spesifiek was tot die besondere spier wat hulle gesien het, gestimuleer word – wanneer die persoon van dieselfde ras was. Maar diegene van ’n ander ras het nie dieselfde sensorimotoriese respons uitgelok nie.
Volgens die navorsers is dit rassevooroordeel wat die respons veroorsaak, soos blyk uit die resultaat van die “pers ras”.
- Die Burger
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger