Ekspedisie wil Titanic se agteruitgang bepaal
2010-07-28 17:50
Die Burger
Richmond (Virginië) – ’n Span wetenskaplikes sal volgende maand ’n ekspedisie na die Titanic lei om die agteruitgang van die wêreld se beroemdste skeepswrak te bepaal en ’n gedetailleerde driedimensionele kaart te skep wat “die Titanic virtueel sal lig” vir die publiek.
Die ekspedisie na die terrein, 4 km onder die Noord-Atlantiese Oseaan, is die gevorderdste wetenskaplike sending na die Titanic sedert die wrak 25 jaar gelede ontdek is.
’n Internasionale span onder leiding van die oseanograaf Robert Ballard het die wrak in 1985 opgespoor.
Die 20 dae lange ekspedisie sal op 18 Augustus begin as ’n vennootskap tussen RMS Titanic Inc., wat die eksklusiewe herwinningsregte tot die wrak het, en die Woods Hole Oceanographic Institute in die deelstaat Massachussetts.
Die “droomspan” van argeoloë, oseanograwe en ander wetenskaplikes wil die beste beraming tot dusver van die skeepswrak bekom, wat onderworpe is aan sterk seestrome in die dieptes, soutwater en intense druk.
Die Titanic het op 15 April 1912 op sy nooiensvaart ’n ysberg getref en gesink. Sowat 1 500 mense het verdrink.
- Sapa - AP