Ekologiese voetspoor reuse-ramp in wording
2010-10-18 07:05
Kaapstad - Koolsuurgasvrystellings en kosproduksie is nou die vernaamste dryfvere vir die mensdom se groeiende ekologiese voetspoor.
Die verbruik van natuurlike hulpbronne wêreldwyd het sedert die sestigerjare meer as verdubbel. Die grootste gedeelte van dié ekologiese voetspoor word toegeskryf aan die mensdom se koolstofvoetspoor, blyk uit die bewaringsorganisasie WWF se jongste oorsig oor die stand van natuurbronne, die “Living Planet Report 2010”.
As verbruikerspatrone aanhou soos nou sal die mensdom teen 2030 twee Aardes benodig (en amper drie teen 2050).
“Die koers waarteen biodiversiteit in arm lande, veral in tropiese gebiede, verlore gaan, is angswekkend, terwyl die ontwikkelde wêreld in ’n skynparadys lewe wat deur ’n oormaat van verbruik en hoë koolstofgasvrystellings aangedryf word,” het Jim Leape, direkteur-generaal van die WWF International, in ’n verklaring gesê.
Sedert 1961 het die mensdom se koolstofvoetspoor elfvoudig vergroot, wat groot druk op biodiversiteit plaas. Dit is die gevolg van drastiese stygings in mensgemaakte atmosferiese kweekhuisgasvrystellings.
Ofskoon die koolstofvoetspoor van die olieproduserende groep van lande verreweg steeds die grootste is (bykans 40% van die globale ekologiese voetspoor) en sedert 1961 tienvoudig toegeneem het, groei dit nie tans die vinnigste in dié lande nie.
Suidoos-Asiatiese lande se energieverbruik het sedert 1961 honderdvoudig vermeerder. Brasilië, Rusland, Indië en China (die sogenaamde Bric-lande) se koolstofvoetspoor het gedurende dié tydperk twintigvoudig toegeneem en lidlande van die Afrika-unie s’n dertigvoudig. Daar bly dubbel soveel mense in die Bric-lande as in die 31 olieproduserende lande.
Die grootste biodiversiteitsverliese, luidens dié studie, is tans in arm lande, veral in tropiese gebiede. Die sogenaamde biodiversiteitsindeks in dié lande het die afgelope veertig jaar met bykans 60% gekrimp.
Dit word toegeskryf aan die groot per capita voetspoor van mense in ryk lande, wat onder meer veroorsaak word deur hul verbruikspatrone en energieverbruik. Peru se ekologiese voetspoor per persoon beloop net meer as 1,5ha, terwyl Luxemburg s’n meer as 9ha per persoon is.
Volgens die WWF verbruik die mensdom tans jaarliks natuurlike hulpbronne teen ’n koers wat die natuur nie gedurende dié tydperk weer kan aanvul nie. Die tien lande met die grootste ekologiese voetspoor per persoon, is die Verenigde Arabiese Emirate, Katar, Denemarke, België, Amerika, Estland, Kanada, Australië, Koeweit en Ierland.
Besoek www.panda.org vir die verslag.
- Die Burger