‘Eerstejaarsindroom’ net ‘n mite
2011-11-02 10:10
New York – Die bygeloof dat ‘n eerstejaar sonder ouertoesig en skoolsport gemiddeld 7 kg gewig aansit binne sy eerste maande op universiteit is ‘n mite.
Die gemiddeld is eintlik sowat 1 kg vir jong vroue en sowat 1.5 kg vir mans, het navorsers bevind.
“Nie net is 'eerstejaarsindroom' bog nie, dit lyk ook of daar nie eers iets soos ‘n 'universiteitsindroom' is nie,” het Jay Zagorsky van die Ohio State-universiteit in Amerika gesê.
Minder as 10% van eerstejaars het meer as 7 kg gewig opgetel en ‘n kwart van die studente in die studie het selfs gesê hulle het in hul eerste jaar gewig verloor.
Die studie, wat in die joernaal Social Science Quarterly gepubliseer is, het bevind universiteitstudente tel geleidelik gewig op soos die jare aanstap.
Vroue tel gemiddeld sowat 3.5 kg op terwyl mans gemiddeld 5.6 kg meer in die toga moet inpas aan die einde van die universiteitsjare.
“Dit is nie die universiteit wat 'n mens laat gewig optel nie,” het Zagorsky egter gesê. “Dit is maar net ‘n natuurlike deel daarvan om 'n jong volwassene te word.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters