Eerste terugslag vir Curiosity
2012-08-22 11:28
Washington – Die Curiosity het sy eerste terugslag op Mars beleef, het Nasa in ‘n verklaring bekend gemaak.
‘n Sensor op die tuig se weerstasie wat windlesings neem, is beskadig, het BBC berig.
Die Curiosity-span het egter gesê dit is nie ‘n ernstige problem nie en dat dit net van die lesings se akkuraatheid gaan beïnvloed.
Dit is steeds nie bekend hoe die skade aangerig is nie, maar ingenieurs vermoed klippe het tydens die verkenningstuig se landing opgespring en dalk van die sensors se bedrading beskadig.
Nasa beskryf dié nuus as ‘n enkele “teleurstelling” in wat sover ‘n briljante begin vir die sending was.
Javier Gomez-Elvira, die hoof-ondersoekbeampte, het gesê dat hy hoopvol is om ‘n manier te kry om rondom die kwessie te werk.
“Ons werk hard daaraan om soveel funksionaliteit as wat moontlik is te behou.”
Die Curiosity het sowat twee weke gelede op Mars geland.
Die verkenningstuig sal minstens twee jaar lank op die planeet aktief wees en sal inligting van Mars se geologie en geomorfologie, asook die aard van organiese aktiwiteit op die planeet se oppervlak, na die aarde terugsein.
Lees hier meer
– Volg Nuus24 op Twitter