Eerste bioniese oog ingeplant
2012-08-30 15:26
Sydney – Australiese wetenskaplikes het bekend gemaak dat hulle die wêreld se eerste bioniese oog-prototipe ingeplant het.
Die wetenskaplikes beskryf die inplanting as ‘n groot deurbraak vir siggestremdes.
Bionic Vision Australia (BVA), ‘n regeringsbefondste konsortium, het ‘n prototipe van 'n bioniese oog by ‘n vrou, Diane Ashworth, ingeplant. Ashworth ly aan oorerflike sigverlies.
Dié oog is aan Ashworth se retina vasgebind en bevat 24 elektrodes wat elektriese impulse na haar oog se senuwee-selle stuur.
“Ek het nie geweet wat om te verwag nie, maar ewe skielik kon ek ‘n bietjie lig sien. Dit was ongelooflik,” het Ashworth in ‘n verklaring gesê.
“Elke keer wat daar stimulasie was, het ek ander vorms gesien.”
Penny Allen, die chirurg wat die oog ingeplant het, het die operasie as ‘n “eerste” beskryf.
Op die oomblik werk Ashworth se oog net wanneer dit in die BVA se laboratorium gekonnekteer is. Die BVA se voorsitter, David Penington, sê dat hulle die geleentheid gaan gebruik om te kyk hoeveel beelde die brein en die oog kan “bou.”
Die span werk tans aan ‘n nuwe oog wat 98 elektrodes bevat en hopenlik sal mense met die 98-elektrodes groter beelde soos geboue en karre kan waarneem. Daar is ook ‘n 1 024 elektrode-oog in die pyplyn.
Die 1 024 elektrode-oog sal hopenlik mense laat gesigte herken en selfs groot gedrukte boeke kan laat lees.
Penington het gesê dat die uitslae met Ashworth se oog hulle “beste verwagtinge oortref het. Ons het nou vertroue dat ons eendag bruikbare sig sal kan bereik.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP