Dwergpaddas besmet 200 Yanks met salmonella
2011-04-14 13:00
Troetelpaddas het vermoedelik al meer as 200 Amerikaners vandeesmaand met salmonella besmet.
Die VSA se sentrums vir siektebeheer (CDC) sê op hul webwerf hulle vermoed die plaas van ’n paddateler van Kalifornië is die oorsprong van die Salmonella Typhimurium wat mense in 41 deelstate platgetrek het.
Meer as ’n derde van die siekes moes hospitaal toe.
In onderhoude het 64% van die siekes aan die CDC gesê hulle was in kontak met troetelpaddas en in die meeste gevalle was dit ’n soort dwergpadda van die Kongo in Afrika.
Die Kaliforniese paddateler se perseel is verlede jaar geïdentifiseer ná ’n soortgelyke uitbreking. Toetse in Maart het getoon daar is weer salmonella op die plaas en die owerhede toets nou om vas te stel of dit dieselfde stam is wat die jongste uitbreking veroorsaak het.
Die meeste mense wat die kiem inkry, ontwikkel diarree, koors en maagkrampe binne sowat drie dae nadat hulle besmet is. Die siekte kan dodelik wees as dit onbehandeld van die ingewande na die bloedstroom versprei, het die CDC gewaarsku.
Prof. Graham Alexander, ’n herpetoloog (kenner van reptiele en amfibieë) aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê sulke troeteldiere dra dikwels organismes soos salmonella. Hy sê ’n mens behoort altyd jou hande te was nadat jy die diere hanteer het.
Die CDC waarsku dat die water waarin dié soort paddas woon ook besmet kan word en die akwariums nie in kombuisopwasbakke gewas behoort te word nie.
Navorsers vermoed dat die infeksies opgedoen is weens kontak met die water omdat die dwergpaddas meestal buite bereik op die bodem van hul tenks rus.
Die sentrums meen die dwergpaddas is nie geskik vir kinders onder vyf nie en hoort nie in hul slaapkamers nie.
Hulle beveel ook aan dat sulke akwariums nie in sentrums vir kinders en bejaardes staan nie.
Alexander sê hy glo die besit van ’n reptiel soos ’n huisslangetjie is goed om by kinders ’n belangstelling en liefde vir die natuur te kweek.
Sowat 1,4 miljoen Amerikaners word jaarliks met salmonella besmet, waarvan 15 000 in die hospitaal beland en 400 sterf. Studies in die 1990’s het getoon sowat 74 000 gevalle per jaar is weens kontak met reptiele en amfibieë.
Volg Nuus24 op Twitter.