Duke se slagtand nou wildtuin se langste
2011-10-31 09:00
Nelspruit – Duke, een van die Krugerwildtuin se nuwe geslag slagtandreuse wat onlangs dood is, het hom nou amptelik in die geskiedenisboeke gevestig.
Die dier se linkerslagtand het vir hom ’n rekord besorg nadat vasgestel is dié tand is die langste wat tot nog toe in die wildtuin gemeet is.
Duke se linkerslagtand was 3,21 m lank, terwyl sy regterslagtand 2,93 m gemeet het. Die twee slagtande het saam 140,5 kg geweeg.
William Mabasa, woordvoerder van die Krugerwildtuin, het gesê hulle het Vrydag die meet- en weegwerk gedoen.
“Ons wag net vir amptelike bevestiging, maar dit wil lyk of die tand wel die langste ooit is.”
Tot Vrydag was Shawu – een van die park se bekende sewe groot olifante – se linkerslagtand van 3,17 m die langste nóg.
Duke, wat die grootste deel van sy lewe in die Krokodilbrug-gebied deurgebring het, was die afgelope twee jaar gereeld in die nuus.
In Augustus 2007 het sy een slagtand afgebreek. Die stompie is kort daarna in die veld gevind. ’n Jaar later het die ander een ook afgebreek, en dié stompie is ook opgespoor.
Daar is toe besluit om Duke met ’n elektroniese halsband toe te rus sodat sy karkas eendag maklik opgespoor kan word as hy sou vrek. Hy is in Oktober weens ouderdom dood.
Die twee stompies – van onderskeidelik 1,46 cm en 1,33 m lank – wat in sy skedel agtergebly het, is verlede week uitgehaal.
Daar is nog nie besluit wat van Duke se skedel en slagtande gaan word nie, het Mabasa gesê.
Dit sal waarskynlik deel word van die uitstalling in die Olifantsaal by die Letaba-ruskamp.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger