Duister toekoms vir leeus in Afrika
2013-03-06 15:48
Minnesota – ‘n Nuwe verslag toon dat amper die helfte van Afrika se bevolkings van wilde leeus binne die volgende 20 tot 40 jaar op die randjie van uitwissing sal wees as dringende bewaringsmaatreëls nie in plek gestel word nie.
Skrywers van die verslag het onder andere gesê die toekoms van die kontinent se leeus lyk so sleg dat die enigste volhoubare oplossing is om die diere te omhein, en om mense buite die heinings te hou, het Science Daily berig.
Die verslag, met die titel Conserving large carnivores: dollars and fence, is in die Ecology Letters-joernaal gepubliseer.
Prof. Craig Packer van die Universiteit van Minnesota was die studieleier, en is bygestaan deur ‘n groot span bioloë, insluitend die hoof van die organisasie Panthera, dr. Luke Hunter.
Panthera is ‘n liefdadigheidsorganisasie wat hom beywer vir die bewaring van groot katte en die ekostelsels waarin hulle leef.
Leeus in onomheinde reservate is in groter gevaar as leeus wat in omheinde reservate woon, het die verslag ook getoon.
Jagters, die krimpende oppervlak van die diere se habitat, en die jag van te veel van die leeu se prooi is as van die grootste probleme uitgesonder.
“Die bevindings toon die erns van die bewaringskrisis en die beperkte keuses wat ons het om 'n toekoms vir die spesie te verseker. Niemand wil nog heinings om Afrika se pragtige natuurskoon sit nie, maar sonder... onmiddellike verbintenis tot die leeu se bewaring, sal ons nie veel ander keuses hê nie,” het Hunter verduidelik.
Slegs sowat 30 000 wilde leeus kom nog in Afrika voor.
Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter