Duisende mikroskyfies vir troeteldiere herroep
2012-12-12 13:06
Johannesburg – 'n Maatskappy het duisende foutiewe mikroskyfies wat gebruik word om diere op te spoor, herroep, omdat dit nie deur skandeerders gelees kan word nie, berig die Cape Argus.
Volgens die berig is daar in Februarie bevind dat 'n spesifieke versending Back Home Biotec-mikroskyfies foutief is. Dié versending is onlangs wêreldwyd herroep.
Die versending het die nommers 900088 en 900008800259208.
"Ons weet nie presies wat die probleem is nie. Dit is 'n internasionale probleem. Dit lyk of daar vog in die skyfies gekom het," het Harry Edwards, van die plaaslike verspreider, Virbac, SA gesê.
Die eienaars van plaaslike troeteldiere wat die mikroskyfie het, is reeds in kennis gestel om hulle na veeartse te neem vir 'n gratis vervanging.
Virbac SA het gesê mikroskryfies wat ná April 2012 verskaf is, is nie foutief nie.
Mikroskyfies, wat gewoonlik die grootte van 'n ryskorrel is, word onder die diere se vel ingeplant en is gekodeer met die eienaar se besonderhede.
Indien die diere wegraak, kan 'n diereskuiling of veearts die troeteldier se mikroskyfie skandeer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA