Duiker spog met onderwater rolstoel
2012-08-28 21:34
Londen – Die kunstenaar Sue Austin maak gereed om ‘n selfaangedrewe onderwater rolstoel aan die publiek bekend te stel, berig die BBC.
Austin, wat al sedert 1996 in ‘n rolstoel is, het dié stoel ontwerp met behulp van duik-kundiges en akademici.
Die rolstoel word aangedryf deur twee skroewe en word gestuur met ‘n voet-beheerde vin.
Austin sal vandeesweek as deel van vieringe wat met die Paralimpiese Spele verband hou, in ‘n swembad in Weymouth ‘n vertoning met die rolstoel lewer.
Sy het glo die idée gekry toe sy in 2005 leer skubaduik het.
“Toe ons met mense oor die rolstoel begin gesels het, het ingenieurs gesê dit sal nie werk nie. [Hulle het gesê] die rolstoel sal tol, en dat dit nie ontwerp is om deur water te gaan nie, maar ek was seker dat dit sou,” het Austin aan die BBC gesê.
Dié rolstoel, wat nog nie ‘n naam het nie, is klaar in groot aanvraag.
“Profesionele duik-instrukteurs en baie ervare duikers het al gesê hulle sal my betaal om dit te kan huur.”
Daar is wel een probleem met die prototipe: die raam begin roes. Austin het gesê die ideal sal wees as die volgende model met titaan gemaak kan word.
Kyk die video hier:
– Volg Nuus24 op Twitter.