Digi-wat?
2009-09-03 01:37
New York – Boek, film of webwerf. Dis nie maklik om Anthony Zuiker se "digi-novelle" te definieer nie.
Zuiker, die man agter die trefferreeks CSI: Crime Scene Investigation, se nuwe misdaadnovelle kombineer die tradisionele boekformaat met kort films en ‘n interaktiewe webwerf.
Zuiker noem sy misdaadstorie, Level 26, ‘n “digi-novelle”.
Lesers word uitgenooi om elke 20 bladsye ‘n spesiale kode te gebruik om ‘n drie minuut lange film op die internet te kyk. Die kortfilms dien as oorbrugging tussen dele van die storie.
Boekwurms word verder uitgenooi om die storie te bespreek en selfs bydraes te lewer op die internet.
Zuiker glo nie die tradisionele boek sal gou verdwyn nie. Hy sê egter dat die boekwêreld inhoudsvervaardigers soos hy nodig het om storievertelling op ander wyses aan te pak.
Zuiker het aanvanklik ‘n buitelyn vir die novelle geskets. Dit is later deur Duane Swierczynski geskryf. Zuiker was vir die skryf en regie van die kortfilms verantwoordelik.
Hy het gesê die boek kan gelees wees sonder om die films tussenin te kyk.
- Reuters