Die woorde 'Facebook' en 'Twitter' vir Franse uitsaaiers taboe
2011-06-04 11:00
Kaapstad – Televisie- en radio-persoonlikhede in Frankryk mag nie meer “Twitter” of “Facebook” op die lug sê nie, behalwe as dit in ‘n nuusstorie oor daardie spesifieke maatskappye gebruik word, volgens ‘n nuwe verbod deur die Franse uitsaai-owerheid CSA.
Dus, as Franse uitsaaiers kyker-interaksie via Facebook of Twitter wil bewerkstellig, kan hulle dit nie meer sê nie.
Die bekende “volg ons op Twitter” of “hou van ons op Facebooek”-sinne word dus nou nie meer op Franse televisie toegelaat nie.
Die netwerke mag wel nog sê: “Vind ons op sosiale netwerke,” maar sulke netwerke mag nie op die naam genoem word nie.
Die rede agter die besluit? Die noem van sosiale netwerke soos Facebook en Twitter op die naam gaan glo teen die 1992-verbod waarin geheime advertering verban word.
Deur kykers aan te moedig om in kontak te tree via hierdie sosiale netwerke word gesien as “skelm advertering” vir die sosiale netwerke self.
Lees meer by Mashable
Volg Nuus24 op Twitter