Dié vleis is in jou biltong
2013-03-01 09:17
Johannesburg – Die meeste van Suid-Afrika se biltong het volgens DNS-toetse wat Vrydag gepubliseer is, min te doen met wat op die etiket staan.
Wildsbiltong, wat gewild is onder gesondheidsbewustes omdat dit vleis bevat van diere wat vry kan loop, word dikwels verkeerd geëtiketteer, toon 'n studie deur wetenskaplikes van die Universiteit van die Wes-Kaap.
"Die bevinding was dat daar 'n groot vervanging van spesies in die mark is," het Maria Eugenia D'Amato, 'n navorser, gesê.
Van die 146 monsters wat getoets is, het meer as 100 onverklaarde vleisspesies bevat. Al die monsters wat as bief gemerk is, is korrek geëtiketteer, maar die meeste wat verkeerd geëtiketteer is, is 92% van pakkies koedoe-biltong, wat spesies soos perd, kameelperd, vark, bees en selfs kangaroe insluit.
Navorsers is bekommerd dat een monster was as sebra gemerk is, die vleis van 'n bergsebra – 'n bedreigde spesie – insluit.
"Sommige van die vervangings is doelbewus, omdat kangaroe nie in Suid-Afrika voorkom nie, beteken dit die biltong is ingevoer," het D'Amato gesê.
"Om varkvleis in volstruiswors te vind, dui ook op doelbewuste vervanging. Daar is geen manier dat dit 'n fout is nie," het sy gesê en uitgewys dat sekere geloofsgroepe soos Moslems en Jode nie varkvleis eet nie.
Die studie, wat in die Europese wetenskapjoernaal BioMed Central verskyn het, is tussen 2009 en verlede jaar gedoen.
Dit is die eerste geval in sy soort in Suid-Afrika en word nie verbind met die perdevleis-skandaal wat Europa die afgelope ruk getref het nie.
Wildsbiltong is 'n groot bedryf in Suid-Afrika, waar meer as 10 000 wildplase gelys is.
Die vleis is gesonder as bief omdat dit minder vet bevat, laag is in cholesterol en die diere word nie met hormone of antibiotika ingespuit nie.
Owerhede in Suid-Afrika het Donderdag gesê 'n dringende ondersoek sal gedoen word oor hoe vleisprodukte wat ondermeer donkie-, waterbuffel en bokvleis bevat, in supermarkte verkoop word. Dít volg ná die bevindings van 'n studie wat deur navorsers van die Universiteit van Stellenbosch gedoen is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP