Dié uitvindings het alles verander
2010-01-05 14:14
New York – Kan jy nog onthou toe ’n BlackBerry net ’n bessie was? Of toe ‘groen’ net ’n kleur was? Wat van die dae wat realiteitstelevisie maar net daai een program tussen musiekvideos op MTV was?
As jy ’n lysie van noemenswaardige politieke en sosiale gebeurtenisse oor die afgelope dekade maak, kan dit maklik ’n lang een wees. Maar wat van die meer geleidelike leefstylverandering wat mense dikwels miskyk?
Hier’s ’n lys van uitvindsels wat waarskynlik jou manier van dink en doen heelwat verander het:
BLOG: Hoe’t ons besig gebly voor blogs bestaan het? Op die oomblik is daar meer as 100 miljoen sogenaamde ‘webblogs’ in die kuberruim.
BLACKBERRIES: Enigiemand van hoof- uitvoerende beamptes tot ma’s met besige skedules sê hulle kom nie maklik sonder dié foon klaar nie. Dit is reeds in 2002 bekendgestel, en die smartphone weergawe word volgens vervaardiger Research in Motion Ltd. tans deur meer as 28 miljoen mense wêrelwyd gebruik.
KAMERAS: Onthou jy nog daai uitstappies om films te laat ontwikkel? Nie? Selfs jou ouma het nou ‘n digitale kamera, en sy’s heel moontlik op hierdie oomblik besig om haar foto’s vir jou te e-pos, of selfs om hulle op ’n webwerf te laai.
SELFONE: Selfone word deesdae deur meer as 85% van Amerikaners gebruik, en vir sommiges het hulle reeds landlyne vervang. Let wel: Hulle maak dit egter moeiliker om jou eggenoot te verkul – vra maar net vir Tiger Woods.
CROCS: Dié alomteenwoordige plastiekskoene het hul eerste verskyning in 2002 gemaak, en het vinnig bekend geraak as die skoene wat almal geniet het om te haat. Kinders is dol daaroor, maar daar is ook internetgroepe wat hulself beywer om soveel moontlik pare te vernietig. Selfs Michelle Obama het ‘n paar gedra toe die Obama-gesin verlede jaar met vakansie gegaan het.
FACEBOOK: Kan jy glo dié webwerf is eers beperk tot slegs Harvard studente? Nou is dit ‘n tydrowende obsessie vir meer as 300 miljoen verbruikers, en ‘n hele nuwe vorm van sosiale etiket het ontstaan: Wie bevriend ’n mens op Facebook?
GOOGLE: Hierdie was die dekade wat Google deel van ons algemene breinfunksie geword het. Onthou jy daai ou wat in daai fliek was? Google dit.
GPS: Ons kan nie meer verdwaal nie – oftewel, dit sou moeilik wees om dit met ’n GPS reg te kry. Maar jy beter jou eindbestemming versigtig intik. Een paartjie het ‘n 400 myl lange fout gemaak toe hulle “Carpi” eerder as “Capri”
SMS: Lees j ng di strie? Ons hoop so. Dis hierdie dekade wat ons geleer het om met die snelskrif (oftewel sneltik) van teksboodskappe te begin kommunikeer. Raak gewoond daaraan: e-posse is só verlede dekade.
TWITTER: Dié nuwe sosiale netwerk het tweets, retweets, follows en trending topics, solank elke boodskap nie meer as 140 karakters is nie.
WIKIPEDIA: ’n Wonderwerk vir lui studente oral oor die wêreld. Dié verniet ensiklopedie maak gebruik van sy massas verbruikers om self alle inskrywings te redigeer en (meestal) (soms) akkuraat te hou.
YOUTUBE: Kom ons maak klaar met die lysie en gaan mors ’n bietjie tyd deur Youtube videos te kyk! Dié webwerf, bedoel vir die uitruil van video-materiaal, is in 2005 gebore. In 2008 het politieke kandidate in die Amerikaanse verkiesings selfs hul eie Youtube kanale gehad. Die mees gewilde video nog? Charlie Bit My Finger, waarin die baba Charlie sy broer Harry se vinger byt.
–AP