Dié kaarte wys koolstof-berging
2010-10-07 07:16
Kaapstad. – Dit is ’n kaart met ’n verskil. Eerder as plekname, bergreekse en hoofpaaie, dui dit aan hoeveel koolstof in plantegroei geberg word.
Tegnologie wat ook in Afrika se savannas toegepas kan word, is ontwikkel waarmee die hoeveelheid koolstof wat in woude geberg, asook deur verskillende soorte grondgebruik vrygestel word, bepaal word.
Dié “koolstofkaarte” is saamgestel deur navorsers van die Carnegieinstituut se departement van globale geologie, die WWF International en Peru se omgewingsdepartement.
Navorsingsresultate het in die joernaal Proceedings of the National Academy of Sciences verskyn.
Die kaarte wat danksy satelliet-inligting, lasertegnologie en opmetings op land saamgestel is, word as ’n deurbraak bestempel.
“Ons kan ook koolstofdioksied-vrystellings, wat klimaatsverandering aanhelp, meet wanneer woude verniel of vernietig word,” het dr. George Powell van die WWF International gesê. Powell is ’n medesamesteller van die studie.
Die studie het hom toegespits op ’n deel van Peru se Amasone-woudgebied. Historiese inligting oor ontbossing en habitatverval is gebruik om, tesame met die tegnologie, die koolstofkaarte te ontwikkel.
Volgens die navorsing, wat op sowat 26 715 km² se woudgebied gedoen is, word sowat 395 miljoen metrieke ton koolstof jaarliks in dié gebied geberg, terwyl sowat 630 000 metrieke ton CO2 terselfdertyd vrygestel word.
Dr. Greg Asner, van die Carnegie-instituut en hoofsamesteller van die studie, het gesê navorsers was verbaas oor hoe verskillende woudsoorte se vermoë om koolstof te berg, verskil. Geologie speel ook ’n rol.
“Waar die plaaslike geologiese formasies tot 60 miljoen jaar oud is, kan die plantegroei sowat 25% minder koolstof berg as in geologies jonger gebiede waar die grond ook meer vrugbaar is,” luidens ’n verklaring. “Ons het ook ’n belangrike wisselwerking tussen die geologie, grondgebruik en (kweekhuisgas-) vrystellings bespeur.”
Volgens die navorsing het die bou van ’n groot deurpad in die woude van Madre de Dios in Peru, asook bosboupraktyke en goudmynbou in die studiegebied ’n toename in vrystellings weens ontbossing van meer as 61% in 2009 meegebring.
Sedert 1999 het kweekhuisgasvrystellings weens habitatverval in dié gebied verdubbel en vrystellings weens ontbossing met 47% toegeneem.
Hierteenoor is 18% van vrystellings geneutraliseer danksy boomaanplantings.
- Beeld