Dié beeste se vleis glo goed vir hart
2010-10-19 07:30
Johannesburg - Eet egte Afrikaner-veldbeesvleis en skop stof op by die gimnasium.
Daar is bevind dié rooibeeste met die weglêhorings se vleis is goed vir jou hart.
Dr. Pieter de Kock, ’n dokter en mede-eienaar van die Pronk-stoetery by Koedoeskop (naby Thabazimbi), sê veldvleis van inheemse beesrasse wat gras vreet, soos die Afrikaner s’n, is baie gesonder as die vleis van graangevoerde beeste in voerkrale.
Die Afrikaner-beestelersgenootskap het die bevindings van sy studie oor dié ras se veldvleis in Bloemfontein bekend gemaak.
Die bevinding is veldvleis bevat geen groeistimulante en antibiotika nie. Die E.coli-telling en die vetpersentasie is baie laag.
Die Afrikaner se geel vet bevat min LDL, of slegte cholestrol, baie lanoliensuur (’n essensiële vetsuur) en betakaroteen, ’n anti-oksidant.
Grasvreters se vleis is ook ryk aan Omega 3, 6 en 9.
Die Afrikaner-veldvleis se cholesterol van 40mg/100g is die helfte minder as die 88,970mg/100g van voerkraalvleis. Wildsvleis s’n is 27,030mg/100g, hoender met die vel 85,000mg/100g en vark 90,970mg/100g.
Die vleis het ’n dubbelgeen vir sagtheid en is sappiger as al die ander s’n.
Dit is dus ’n ideale vleis vir restaurante.
De Kock sê in Suid-Afrika het ons ’n genetiese probleem met cholesterol, veral blanke mans. Dit word vererger deur ’n hoëcholesteroldi-eet.
Met die super-beesvleis neem dermsiektes toe weens ’n hoër belading bakterieë. Voerkrale dien antibiotika in die voeding toe om die beessiektes te voorkom.
“Dit is vir ons ouens wat met medisyne werk ’n groot dilemma. Jy sukkel om mense gesond te kry. Een lading antibiotika werk nie. Jy gee sommer twee soorte antibiotika van die begin af, maar dit werk steeds nie. Jy moet baie keer ’n pasiënt laat opneem.”
Die bakterieë in die beeste raak weerstandig teen die antibiotika.
Siektes het ontwikkel wat nie gesond word nie.
De Kock sê om net die vet af te sny, is bevind gee ’n tekort aan essensiële vetsure en veroorsaak ernstige afwykings by mense.
Ons kan dus nie ’n proteïenbron benut sonder enige vet nie, sê hy.
Die ABTG sê die Afrikaner-veldvleis is soos wild- en volstruis s’n as geskik vir uitvoer na die Europese Unie bevind, hoewel die EU nie beesvleis invoer nie.
Die genootskap kyk na bemarkingsgeleenthede soos om hul veldvleis deur slaghuise te bemark en in sekere restaurante te bedien.
Pierre Fouché, president, sê met aardverwarming wat toetree, is dit al ras wat kan voorsien vir die toekoms.
Dit is ’n ras met ’n lae onderhoud wat meer vleis per hektaar kan produseer. Die gesondheid daarby met die veldvleis is ’n bonus.
Fouché sê hy sal in sy noppies wees as hy eendag in ’n top-restaurant instap en hy kry ’n Afrikaner-veldvleissteak op die spyskaart.
“Dit sal wonderlik wees. Almal spot oor die Afrikaner, maar almal het ’n sagte plekkie vir hom.”
- Volksblad