Deurbraak in veldtog teen webblad-porno
2010-11-28 11:35
Pretoria - Selfregulering kan ’n magtige wapen wees om kinders op die internet te
beskerm, veral waar oortreders tegnologie gebruik om vir die owerheid
weg te kruip.
So sê Arthur Goldstuck, besturende direkteur
van die internetnavorsingsgroep World Wide Worx, nadat sy veldtog teen
die omstrede webblad www.outoilet.wen.ru gesorg het dat minstens drie
internetdiensverskaffers dié blad nou blokkeer.
Hy het ook daarin
geslaag om een van die grootste adverteerders op dié webblad, ’n
selfoon-afspraakdiens vir mense ouer as 18 jaar, te oortuig om sy
advertensies te onttrek.
Goldstuck het MTN, Vodacom en Virgin
Mobile se besluit verwelkom om Outoilet te blokkeer omdat kinders
hoofsaaklik deur selfone die blad besoek het.
Die webblad het
kletskamers vir spesifieke skole geskep en dis daar waar ’n video van
seks tussen leerlinge van die Jules High School in Johannesburg glo
verkoop is.
Woensdag het ’n boodskap op die blad gelui dat die skoolkletskamers afgehaal is weens “klagtes en eksamens”.
Verder
het daar ook gestaan dat die webblad nie pornografie bevat nie, dat
alle foto’s gemonitor word en dat iemand ouer as 18 moet wees om die
kletskamers te mag besoek.
’n Soortgelyke webblad, www.toilet.wen.ru, het Donderdag steeds kletskamers vir verskeie Suid-Afrikaanse skole gehad.
Outoilet word deur ’n bediener in Rusland bedryf wat dit moeilik maak vir die Suid-Afrikaanse owerhede om daarteen op te tree.
Goldstuck sê Outoilet is berug daarvoor dat kinders daar geboelie word en dis volgens hom ’n vorm van mishandeling.
Volwassenes het vanjaar begin om kinders op die webblad uit te lok vir seks, met aanbiedinge van geld of lugtyd, sê hy.
“Hulle
het ook pornografie aan kinders aangebied en het geld en lugtyd
aangebied vir foto’s van naak kinders. In sommige gevalle het kinders
ook hul dienste aan volwassenes aangebied.”
Goldstuck sê dit is
vir hom duidelik dat daar misdadige bedrywighede op die webblad was. Sy
veldtog gaan nie daaroor dat internetverskaffers morele waghonde of
sensors moet wees nie, maar oor die beskerming van kinders teen
regstreekse misbruik, sê hy.
Die rolprent-en-publikasieraad het
intussen die Russiese gasheer van die webblad deur ’n internasionale
organisasie probeer kontak, maar nog geen reaksie gekry nie.
Volgens Yoliswa Makhasi, uitvoerende hoof van die raad, het hulle in ’n
ondersoek nie kinderpornografie op die blad gevind nie, maar wel
gereedmaking (grooming), wat ’n misdaad is.
- Rapport